Description
- Hardeband
- Die bladsye in die boek is gelerig.
Die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) is ‘n publikasie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met spelreëls, ‘n woordelys, afkortingslys en verskeie bylaes vir Afrikaans. Die eerste uitgawe het in 1917 verskyn, en word sedertdien gereeld bygewerk. Die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns stel hierdie publikasie op met die primêre doel om leiding te gee ten opsigte van spelling.
Die afdeling oor spelreëls is onderverdeel in afdelings wat spelreëls vir Standaardafrikaans verduidelik aan die hand van sekere onderwerpe: Grondbeginsels van die Afrikaanse spelling, wisselvorme, klanke (vokale, diftonge en konsonante), meervoudsvorme, skryftekens (afkappingsteken, aksent, kappie, deelteken, koppelteken), hoofletters, verkleiningsvorme, trappe van vergelyking, leestekens, en los en vas skryf van woorde.
Die woordelys bevat ‘n versameling Afrikaanse woorde om die korrekte skryfwyse ten opsigte van spelling, wisselvorme, gebruik van koppeltekens, hoofletters, en skryftekens aan te dui. Dit is geensins ‘n volledige lys van Afrikaanse woorde nie, maar poog eerder om probleemgevalle uit te lig, of om minder algemene woorde as aanvaarbaar aan te dui.
Die afkortingslys bevat afkortings en ooreenstemmende volledige vorms wat in algemene gebruik voorkom. Riglyne vir die gebruik van afkortings word ook gegee.
Talle bylaes met nuttige inligting word ook agter in die AWS aangebied.