Description
- Geskryf deur Riekert Botha
Riekert Botha is ‘n juweel wat nie gekluister is aan die dogma van een instansie nie, maar wêreldwys is, …sy liefde vir God is opvallend …hy het al ‘n lang pad met sy geloof geloop, ‘n pad van stry en weer stry, vra en aanvaar. Die deernis en oortuiging van sy gesprekke, soos op RSG in Brekfis met Derrich, het al vir baie mense nuwe denkrigtings oopgemaak wat hulle nie geweet het bestaan nie.
Soveel mense het vrae en onopgeloste kwellings en seer oor geloof. Kwessies krap mense om, en met Pleister vir die Siel word daar gepoog om die pyn van die lewe en sy gebeure meer draaglik te maak en mense hoop te gee vir hulleself, die toekoms en hulle geloof.
Riekert Botha is die pastor van die Baptiste Gemeente op Vredendal in die Wes-Kaap. Riekert beskik oor die grade BA.Th (honneurs) van die Global University en ‘n MA.Th van die Northwestern Theological Seminary, waar hy tans besig is met sy Ph.D (berading).
Hy is getroud met Pippa (sy vrou vir sewentien jaar). Hulle het drie kinders: Christiaan, Willem en Katelyn.
Riekert begin sy voltydse bediening in 1991 na ‘n tydperk van intense worsteling met God en met geloofsake. Uit hierdie worsteling is ‘n honger na die waarheid en ‘n egte verhouding met God gebore. Na sy bediening as Jeugleier in die Logos Baptiste Kerk in Bellville, het Riekert en Pippa ‘n uitnodiging van CBN aanvaar om as sendelinge in die Oekraïne te gaan werk. Na vyf jaar in die Oekraïne het hulle die roeping na hulle huidige gemeente in Vredendal aanvaar.